Vloot se vyf dapperste lede vereer


Vyf lede van die Suid-Afrikaanse Vloot is gister vereer nadat hulle die Vloot se erekode uitgeleef het. Die kode bepaal dat dat hulle hul “taak met dapperheid sal volvoer”.
Dié vyf is in Simonstad beloon vir hul dapperheid in buitengewone situasies.
Tydens die Vloot se medaljeparade het sowat 90 lede en oudlede van die Vloot medaljes ontvang. Die belangrikste medaljes was die twee Vlootkruise en drie Brons Luiperd-medaljes vir dapperheid.
Kdr. Wayne Combrink het op 29 November 2001 die Simonstad-polisie gehelp om ’n vermeende moordenaar in hegtenis te neem. “Twee lede van my eenheid is deur dié mens doodgeskiet. Die polisie het ingegryp en ek het my hulp aangebied, omdat hulle lede van my eenheid was,” het Combrink gesê.
Die tweede Vlootkruis is aan bmn.1 Gerrit Lewis toegeken. Hy moes op 16 Oktober 2000 op ’n vaart van 40 km deur stormweer ’n navorsingskip na veiligheid bring in Oos-Londen. Sy bemanning en die skip was ongedeerd.
Combrink en Lewis is van die laaste lede van die Vloot wat die Vlootkruis sal ontvang. Dié medalje is onlangs deur die Brons Luiperd-medaljes vervang.
Die drie Brons Luiperd-medaljes is aan duikers toegeken wat in uiters gevaarlike omstandighede ’n ander land gehelp het. Ná ’n ontploffing by Mosambiek se nasionale wapenhuis in Maputo het ao.1 Jacques van Nieuwholtz en bmn.1’s Nicholas Smith en Ivor du Plessis tussen 26 Maart en 27 April 2007 ’n groot hoeveelheid plofbare stowwe en ammunisie verwyder.
Die Brons Protea-medalje is aan die vloot se kommunikasiehoof, kdr. Prince Tshabalala, toegeken.
Kdr. Wayne Combrink se Vlootkruis vir dapperheid word gister tydens die Suid-Afrikaanse Vloot se medaljeparade in Simonstad deur v.adm. Johannes Mudimu aangesteek. Foto: Cyril Prinsloo