Vloot beloon dapperheid

SIMONSTAD. -- Lede van die Suid-Afrikaanse vloot wat hulle weens dapperheid en onselfsugtige diens onderskei het, het die naweek militêre medaljes van die hoof van die vloot, vise-adml. Johan Retief, ontvang.

Lt. Michael Schoeman (31) het die hoogste militêre medalje, die Vlootkruis, ontvang. Dit word toegeken aan 'n seeman wat 'n daad van dapperheid en waagmoed verrig het.

Schoeman het 'n Zambiese generaal gered wat twee jaar gelede op die SAS Galeshewe naby Kaappunt oorboord geval het.

Ook mnr. Shadrack Kabelo Ganda van Metropolitan Batebestuurders het drie medaljes ontvang vir sy rol in en bydrae tot die voormalige bevrydingsbeweging Umkhonto weSizwe. -- (Sapa)