Aktueel

Vloot beloon `onwillige held'

Kapt. Sidney Minnaar met die Vloot se Kruis vir Dapperheid en Buitengewone Moed.

J.J. Harmse

KAAPSTAD. ``Ek glo nie ek het 'n heldedaad verrig nie. Ek het maar net my werk gedoen.'' Só het kapt. Sidney Minnaar, vlootoffisier van Simonstad, wat onlangs die eerste Kapenaar geword het wat die Vloot se Kruis vir Dapperheid en Buitengewone Moed verwerf het, gesê. Die medalje, wat in 1991 ingestel is, is aan die 31-jarige kapt. Minnaar, 'n duikboot-opsporingsoffisier, oorhandig. Dié Vlootkruis, wat toegeken word aan lede wat hulle ``onderskei in gevaarlike omstandighede deur hul buitengewone moed, leierskap, vernuf en deursettingsvermoë in die hantering van personeel en wapentuig'', is aan kapt. Minnaar toegeken nadat hy in Oktober 1994 tydens 'n gesamentlike weermagoefening die lewe van twee verkenningsoldate gered het.

Tydens hierdie oefening, waarin verkenningsoldate per duikboot na die oppervlak gebring word en van daar met rubberbote aan wal gaan, het twee van die soldate byna verdrink nadat hul rubberboot omgekantel het.

Omdat die soldate in volle uitrusting was, kon hulle met moeite drywend bly.

Kapt. Minnaar, wat observasie op die dek van die duikboot gedoen het, het in die water geduik en die twee na die rubberboot gebring.

Wat die prestasie so merkwaardig maak, is dat dit in stikdonkerte in 'n deining van 3m hoog gebeur het en kapt. Minnaar onmiddellik alle kontak met die duikboot verloor het toe hy in die water ingeduik het.

Die beskeie offisier, wat in Simonstad grootgeword het en deur 'n kollega as 'n ``onwillige held'' bestempel word, het nie eens sy vrou, Cathy, van sy heldedaad vertel nie. Sy het tot haar groot verbasing en trots eers 'n maand later van sy bevelvoerder gehoor van haar man se reddingspoging. Vir kapt. Minnaar was dit alles net 'n dag se werk. ``Ek was maar net op die regte tyd op die regte plek daar om twee ouens te help wat in die moeilikheid was,'' het hy gesê.

Hannes Mundey

medaljes dapperheid vloot